SPEEL SPEEL LEER EK
Tot watter mate is jou kind aktief en speel graag. Speel is een van die belangrikste komponente van sy/haar ontwikkeling. Ons het praktiese idees en raad.
In my kinderjare was speel so natuurlik soos om te eet en te slaap. Ons was bedrywig en in die proses ook gesond en fiks. Krieket op die strand met laagwater, “touch rugby, cowboys en crooks.”
Die wêreld verken op jou fiets. Jou eie sinkplaatkano en visvang van die rotse af. Ons het paaie en plase in die agterplaas in die sand gebou met teerpaaie wat met ou motorkar olie donker gekleur was.
Dit was ure se vermaak wat eintlik geen geld gevra het nie.
Wat het dit met 2015 te make? Ons leef mos in ‘n moderne tyd met rekenaars en allerlei elektroniese toerusting wat die aarde so klein gemaak het soos my selfoon.
Dis alles baie wonderlik en bruikbaar maar speel soos in lekker speel bly steeds ‘n noodsaaklikheid vir enige kind se ontwikkeling. Om te speel is om te leer. Ons het geleer om planne te maak, jou verbeelding los te laat,iets uit amper niks te ontwikkel, selfvertroue te kry, geleer om in ‘n span jou plek in te neem, leierskap te ontgin en nog geld ook te verdien.
Rooi-aas en seekat vir aas was ‘n hele paar pennies werd en dit was sommer ‘n besigheid in die kleine.
Koeldrankbottels optel en by die kafee gaan ingee het ook die fondse aangevul met hier en daar ‘n motorkar wat ‘n was gekry het. Jy moet onthou ons het in daardie jare gaan fliek vir ‘n sikspens (vandag sou dit 5 sent gewees het) en ons “besigheid” moes daarvoor sorg.
Wat sien ons hier?
Die hele tyd planne maak wat ook die beursie voller gemaak het. Alreeds iets van ‘n entrepreneur.