EK IS ‘N WENNER
Ek is so opgewonde om vandag met jou te kan gesels en wil graag vir jou die storie van Elsie vertel.
Elsie bly by die see en hou baie daarvan om branderplank te ry. Sy het die nodige opleiding ontvang en al die toetse geslaag en nou is sy ‘n Junior Lewensredder wat die strand help beveilig.
Elsie is baie lief vir haar ouers want hulle werk hard om haar te versorg en seker te maak dat sy ‘n goeie opvoeding kry. Sy weet nog nie wat sy eendag gaan doen nie, want daar is baie dinge waarin sy belangstel. Sy hou nogal daarvan om dinge met haar hande te doen, seker daarom dat haar Juffrou sê sy is kunstig en kreatief.
Eendag het sy saam met haar Ma deur een van ons groot winkelkomplekse geloop terwyl sy gaan inkopies doen het. ‘n Klein winkeltjie in een van die gange het haar aandag getrek. “Ma, kom ons gaan kyk gou daar oorkant.” Die vertoonvenster was kleur op kleur met die mooiste krale en armbande wat jy jou kan indink. Sy het doodstil bly staan en gewonder waar dit alles vandaan kom. “ Dis mooi, nê ma!” Dis pragtig” was ma se reaksie. Daardie middag by die huis wou die krale maar net nie uit haar gedagtes gaan nie. Sy het net daar besluit as sy weer in daardie kompleks kom gaan sy in daardie winkeltjie rondsnuffel.
Nie lank daarna nie was hulle weer daar. Sy het reguit na die krale winkel geloop. Binne was daar soveel soorte krale en kleure dat dit haar behoorlik deurmekaar gehad het. Die dame agter die toonbank was baie vriendelik. “Dag my kind, kan ek jou met iets help?“ “Tannie ek kyk net, dis vir my baie mooi. Waar kry tannie al hierdie krale?” “Weet jy, ek bestel hulle van ’n fabriek af en dan het ek vroue hier in die dorp wat van hierdie krale spesiaal vir my maak om hier te verkoop.” Die tannie het gou iemand anders bedien en seker gesien ek bewonder die produkte, want sy het gevra ”het jy ‘n stokperdjie?” “Tannie ek hou daarvan om met my hande te werk en ek teken baie graag. Ek is ook lief vir kuns.” “Het jy al gedink dat dit iets besonders sal wees om krale te maak?” “Ek sal baie daarvan hou, maar ek het nie krale nie.“
Die tannie het my ‘n oomblik aangekyk en toe gesê. “Dink jy jy kan Vrydagmiddae na skool hier vir so ‘n uur of meer ‘n draai kom maak?” Sy kon nie glo wat sy gehoor het nie. “Ek gaan gou my ma soek sy is hier by een van die winkels dan gaan ek haar vra.” Hulle is terug na die winkeltjie en die tannie en haar ma het lekker gesels. Die tannie was bereid om haar op te lei om krale vir ‘n stokperdjie te begin maak, maar sy moes dit onder haar toesig in die winkel kom doen. So het iets in Elsie se lewe begin waaroor sy vandag nog dankbaar is.
Ek wens so jy kon dit sien, al die kleure, al die vorms van groot en grof tot klein. Daar was krale van glas, plastiek, klip, half-edelstene. Verskillende ontwerpe en hoe pragtig dit aanmekaar gesit is. Elsie het vinnig geleer en kon nie wag vir Vrydae nie. Toe sy al mooi geleer het, het die tannie gesê sy mag krale in ‘n houertjie huis toe neem en daar gaan werk. Daarvoor het sy gereedskap nodig gehad – verskillende tangetjies en verskillende diktes draad, vislyn en ‘n sekere soort gom waarmee gewerk word. Die gereedskap het haar pa vir haar so stuk-stuk gekoop. Sy het tot in die biblioteek gaan soek na boeke oor kralewerk en daar baie fotos en idees gekry. Die moeilikste was seker om hierdie kralewerk te ontwerp. Dis nie sommer net vir enige krale inryg en dink jy het iets wat iemand graag sal wil koop nie. Nee dit vat tyd en jy moet regtig kreatief begin raak, Jy moet jou brein oefen om eintlik prentjies van die produk in jou gedagtes te sien. Sy het soms ‘n hele dag met haar papier en potlood probeer teken hoe die produk moet lyk, maar dit was nie altyd maklik nie.
Maar toe kom die skok. Die winkeltjie gaan sluit want die tannie gaan by haar kinders bly omdat sy te oud was om alleen te bly. Dit was dae se huil toe sy weg is. Elsie onthou haar woorde so goed “jy moenie omdat ek weggaan nou ophou nie. Jy het al so mooi geleer hoe om met die krale te werk, jy moet nou aangaan en dit verder vat.” Net daar het sy besluit dat sy dit gaan doen. Sy het haar ouers vertel van haar besluit. Hulle het geen probleem daarmee gehad nie maar dit kon op een voorwaarde gebeur. Elsie moes elke dag, soos in die verlede, pligsgetrou haar skoolwerk hanteer en leer soos wat sy gewoond was om te doen. Sou haar toets– en eksamen uitslae swakker word sou dit die einde van haar kralewerk beteken. Dit was die ooreenkoms en sy het daarby gehou. Haar stokperdjie was nou ‘n uitdaging en sy het besluit om ‘n sukses daarvan te maak.
Elsie het een aand in die sitkamer by haar ouers gesit en vir hulle van haar nuutste werk gewys. Haar pa was besonder beïndruk met haar werk. “Wat gaan jy eendag met jou stokperdjie maak?” het haar pa gevra. Sy het nie regtig ‘n antwoord daarvoor gehad nie. “Pa ek weet nie so mooi wat om te doen nie, maar ek is so lief daarvoor dat ek dit nie eintlik wil los nie.” Daar was nog baie hieroor gepraat. Elsie het hard gewerk aan haar skoolwerk en is met goeie uitslae en vordering beloon. Haar stokperdjie was haar ontspanning. Sy het selfs van die artikels wat klaar gemaak was, aan haar skoolmaats verkoop en gewoonlik haarself oortref!! Met Moedersdag, wanneer haar vriendinne en ander maats vir hulle moeders iets wou koop, het hul eerste na Elsie se produkte gekyk en dan daarvan gekoop.
Graad 12 was agter die rug. Elsie het besluit om ‘n paar kursusse te volg wat haar sou leer hoe om haar eie besigheid te begin. Sy wou ‘n entrepreneur word wat met die kralewerk ‘n volledige besigheid kon bedryf. Sy het meer kursusse gevolg en ook een voltooi wat hoofsaaklik oor ontwerp gehandel het. Daar was dae dat dit maar moeilik gegaan het maar dan was daar weer dae wanneer dit baie goed gegaan het. Sy het aangehou en deurgedruk en moed gehou. Sy het iemand gekry wat haar baie met die bemarking van my produkte gehelp het en stelselmatig het sy nuwe markte by gekry waar sy haar produkte kon verkoop. Sy het binne ‘n paar maande twee dames gekry om haar te help met die maak van die produkte, maar hulle moes eers deeglik opgelei word om die werk professioneel te kon doen.
Elsie het gou geleer dat jy moet hou van wat jy doen om werklik ‘n sukses daarvan te maak. Daarby moet jy nie sommer net tou opgooi nie. Nee probeer eers hard en.jy sal verbaas wees hoe lekker dit voel as jy die sukses begin smaak!!! Vandag verkoop sy kralewerk in verskeie winkels en gebruik sy ‘n rekenaar ook om ‘n aanlyn winkel te bedryf. Dit het alles ‘n klein begin gehad maar met passie en vasbyt het sy gevorder tot n selfstandige sake-vrou.
Ek weet jy kan ook ‘n sukses maak van so ‘n besigheid as jy jou hart daarop sit. Mooi bly, dalk koop ek eendag van jou produkte !!
Jou storie van Elsie het my laat dink aan een van Confucius (380BC) se quotes:
“Choose a job you love, and you will never have to work a day in your life.”
Hier is nog twee van hom wat hierby pas:-
“By three methods we may learn wisdom: First, by reflection, which is noblest; Second, by imitation, which is easiest; and third by experience, which is the bitterest.”
“It does not matter how slowly you go as long as you do not stop.”
Baie sterkte met OppiBlog!