Aangesien daar ‘n verstaanbare tendens is om die besigheidskomponent van entrepreneurskap te beklemtoon, dink ek dit is nodig om net weer opnuut daarvan bewus te raak dat die entrepreneur in die eerste plek ‘n mens is. Dit is ‘n realiteit dat daar altyd iets in ‘n mens se lewe gebeur. Soos alle mense het die entrepreneur ook by geboorte sekere basiese gawes gratis ontvang wat hom in staat stel om op ‘n funksionele en gesonde wyse op eksterne gebeure te reageer. Ons rus egter nie ons kinders doeltreffend genoeg toe om gewoontes aan te leer wat hulle in staat stel om hierdie gawes so te bestuur dat geestesgesondheid deurlopend bevorder word nie!
Egskeiding, dood van ‘n geliefde, ongelukkige verhoudings, ernstige siektes, en verlies van jou besigheid kan psigiese ongemak by enige entrepreneur veroorsaak. Stres, angstigheid, moedeloosheid, bedruktheid, bekommernis, waardeloosheid, betekenisloosheid, hulpeloosheid hopeloosheid, besluiteloosheid, skuldgevoelens, ‘n afname in energie, slaapprobleme, veranderde eetpatrone en wisselende gemoedstemmings, word dikwels ervaar.
As mens sukkel jy dan om logies te dink en jy kan swak besluite neem wat jou weer skuldig en kwaad laat voel. Jy kan meer reaktief as proaktief funksioneer –in plaas van waarde gebaseerde response toon jy emosioneel-gedrewe reaksies. Dit lei weer maklik daartoe dat ander mense emosioneel teenoor jou reageer.
Onthou, die oplossing begin altyd binne jouself! Jy het ook altyd ‘n keuse hoe jy op gebeurtenisse en prikkels uit die omgewing, wil reageer. Daar is in werklikheid ‘n oorvloed van moontlikhede – dalk is dit vir jou net moeilik om dit raak te sien. Kom ons kyk wat moontlik is op jou reis van binne na buite!
Jy KAN stilweg:
-bewus word van al jou gawes, vermoëns, belangstellings, waardes, beginsels, vaardighede, persoonlikheidseienskappe en ervaring;
-jou emosies uitken en kyk wat dit vir jou wil sê;
-meer objektief na jouself en jou omstandighede kyk, en ook die groter prentjie in ag neem;
-meer aandag aan jou liggaam gee deur byvoorbeeld gereeld oefening en ontspanning te kry, genoeg te slaap en ses kleiner porsies in plaas van drie groot maaltye te eet;
-kragtige oop denkpatrone ontwikkel wat jou ontvanklik, aanpasbaar, doeltreffend, selfgeldend en gemotiveerd maak;
-leer om meer selfvertroue te ervaar, jou spanningsvlak te verlaag en meer energie te genereer.
Indien jy bewese doeltreffende gewoontes aanleer en gereeld toepas, KAN jy op ‘n hoër emosionele volwassenheidsvlak funksioneer, wat jou lewe ‘n nuwe en uitdagende koers kan laat inslaan. Jy kan dan sensitief raak vir ‘n paar entrepreneuriese moontlikhede en werklik begin om op ‘n kreatiewe en dinamiese wyse ‘n interessante loopbaan te bou.
Jy KAN vir jou ‘n duidelike doel stel en gereeld in jou verbeelding sien hoe jy dit verwesenlik. ‘n Nuwe plan van aksie is ook nodig. Dit sluit die samewerking en bevoordeling van ander mense in. Indien jy elke dag met passie fokus op dit wat eerste gedoen moet word om jou droom te verwesenlik én waarneem hoe dit reeds besig is om stap vir stap te gebeur, dan weet jy dat jy ‘n wenner is!
Onthou, as Entrepreneur KAN jy jou droom verwesenlik as jy graag WIL en in jou hart oortuig is dat jy dit BEHOORT te doen!
Jy KAN kyk hoe jy ‘n sinvolle en unieke bydrae in die gemeenskap kan lewer. Jy KAN ‘n nuwe onderwerp deeglik bestudeer en die kennis op ‘n informele wyse aan iemand anders oordra. Jy KAN besluit om onvoorwaardelik “kindness” te toon en mense opreg te probeer verstaan.
In plaas daarvan om altyd alles in jou lewe reg te probeer doen, KAN jy jou onsigbare vennoot in jou onderbewuste, jou intuïsie, raadpleeg en doen wat volgens jou beginsels en waardes, die “regte ding” is om te doen. Jy KAN op ‘n beskeie, maar moedige wyse elke dag vir jou kinders demonstreer hoe jy bewustelik met waardigheid jou lewe in die oomblik leef!
Jy KAN vir goeie vriende vra wat hulle in soortgelyke omstandighede gedoen het of sal doen. Indien jy drie rolmodelle het wat jy bewonder, kan jy in jou verbeelding ‘n dinkskrum met hulle hou om nuwe idees te genereer en probleme op te los! Die inligting kan jou werklik verras. Probeer dit gerus.
Jy KAN bewus raak van beperkende oortuigings (“beliefs”), dit betwis en soos ‘n blaar op ‘n stroom water uit jou sisteem laat wegdryf. Dan kan jy die ‘spasie’ wat in jou “mind” ontstaan met bemagtigende oortuigings vul. Trouens, begin sommer vandag nog om oortuigings soos die volgende, 10 keer per dag te herhaal. Ek bedoel letterlik 10 keer! Jy kan jou selfoon gebruik om jou uurliks daaraan te herinner sodat dit makliker ‘n nuwe gewoonte kan vorm.
John Kehoe:
Any thought put into your mind, and nourished regularly,
will produce results in your life.
Anthony Robbins:
There is a powerful driving force inside every human being that,
once unleashed, can make any vision, dream or desire a reality.
Norman Vincent Peale:
With God’s help and guidance I can achieve a creative outcome
to this situation, and I am now getting such a solution.
Jy KAN tydens die opstaanproses weer terugval. Dit is natuurlik en beteken nie jy is ‘n mislukking of swak nie. Beskou dit as ‘n natuurlike leerproses om jou reserwes op te bou en met wilskrag sterker, buigsamer, meer gemotiveerd en wyser terug te kom.
Hierdie inherente vermoë om elke keer weer op jou voete te land, word baie mooi deur die woord “resilience” saamgevat wat beteken om vinnig te herstel na ‘n terugslag – die wonderlike “ability to bounce back”. Jy het hierdie gawe ook gratis by geboorte ontvang en dit is een van jou waardevolste stukke gereedskap om as entrepreneur in tye van verandering te kan aanpas, die toekoms op ‘n nuwe wyse te ontsluit en betekenisvol te oorleef! Is dit nie wonderlik nie?
Deur so ‘n nederige leerproses KAN jy opnuut besef dat jou enigste sekuriteit as entrepreneur jou vermoë is om ‘n unieke diens te kan lewer wat vir ander van waarde is en waarvoor hulle bereid is om te betaal. Jy KAN jou daartoe verbind om so goed in jou unieke dienslewering te word dat mense weet jy is die een om te kontak. Jy KAN ook aanleer om heel gemaklik daarmee te voel as jy self en jou besigheid, anders as jou mededingers vertoon. Maak dit vir hulle moeilik om jou mis te kyk!
Jy KAN ook deur persoonlike vooroordele en weerstand breek en sorg dat jy ‘n mentor en/of professionele hulp kry.
Leo Steyl M.A. Sielkunde (U.S.); B.Ed. Cum Laude (U.V.)
leosteyl@gmail.com www.leosteyl.wordpress.com
U is baie welkom om persoonlik met Leo te gesels en/of
hom by 072 326 5 234 te skakel.