MEDEDINGERS IS NOODSAAKLIK VIR JOU BESIGHEID OM SUKSESVOL, WINSGEWEND EN VOLHOUBAAR TE BLY
Maak die gedagte aan ander besighede wat dieselfde doen as wat jy beplan om te doen, of dalk reeds mee besig is, jou bang, bekommerd of moedeloos? Moenie dat dit gebeur nie!
Wees positief hieroor en gebruik jou mededingers as die beste hulpmiddel ooit om jou besigheid te laat groei en groter winste te maak.
Ek het vir mnr William van der Merwe, Senior Sakekonsultant en Dosent by die Klein Sake Advies Buro, Noordwes Universitiet, te Potchefstroom, Suid-Afrika, ‘n paar vrae oor mededingers in die sake wêreld gevra:-
J: Moet ‘n mens jou enigsins steur aan mededingers in jou lyn van besigheid?
W: Ons moet onthou dat elke besigheid of onderneming met ander goeie mededinging te doen gaan kry. Daarvan sal ons nie kan wegkom nie. Hier lê egter ‘n wonderlike geleentheid in opgesluit. Jy moet net mooi jou wedstrydplan gereed kry en planne maak soos wat ons gewoond is om by sportgeleenthede te doen. ‘n Paar sulke planne is om ‘n beter diens te lewer, beter produkte te verkoop, te kyk na relatief laer prys of waar moontlik ‘n korter afleweringsperiode aan te bied. Sulke voordele maak dat ‘n kliënt by een spesifieke onderneming koop en nie by ‘n ander een nie. Onthou om wanneer jy ‘n lewensvatbaarheid-studie vir ‘n besigheid doen, ook daarby ‘n studie van mede-dingers insluit. ‘n Markontleding is weer iets anders.
J: Is daar verskillende tipes mededingers?
W: Ja ons kyk na twee hoof tipes.
a. Direkte mededinging – dit is wanneer jou mededingers se produkte of dienste dieselfde is as wat jy in jou besigheid aanbied en albei van julle op dieselfde mark konsentreer;
b. Indirekte mededinging – dis waar ons te doen kry met substitute (iets anders in sy plek).
J: Watter vrae behoort ek antwoorde voor te kry wanneer ek na mededingers kyk?
W: Ek sal graag die volgende wil uitlig:
a. Jy het dalk al ‘n klein besigheid begin of jy het ‘n opwindende besigheids idee van wat jy graag sou wou begin. Kyk nou mooi na hoeveel besighede in jou dorp of in jou omgewing min of meer, of direk dieselfde produk of diens aanbied en dus ‘n mededinger is.
b. Kyk of kliënte na ander dorpe toe ry om dit wat jy wil of reeds verkoop daar te gaan koop. Waarom sal hulle dit nou wil doen? Hoekom koop hulle nie plaaslik in jou dorp of by jou nie?
c. Ek dink dis uiters nodig om mooi na jou bestaande besigheid of jou idee vir ‘n besigheid te kyk en vir jou “prent” te maak van so ‘n besigheid se sterk punte, swakpunte, bedrygings en geleenthede. Hierdie is ‘n oefening wat ons afsonderlik na moet kyk om jou soveel moontlik meet te help.
d. Vra vir jouself af of jou besigheid of idee uniek is. Dit beteken jou besigheid bied iets aan wat niemand anders doen nie, of jy doen dit op ‘n baie kreatiewe en innoverende manier wat ander mededingers nie doen nie. Jy staan dus uit tussen die ander. Ons behoort die moontlikhede van ‘n unieke besigheid ook verder in meer besonderhede te bespreek.
e. Wat is jou planne ten opsigte van jou produk of diens se prys, kwaliteit of gehalte diens? Doen moeite en vind uit wat kliënte wil hê. Ons moet nooit vergeet dat kliënte baie besondere behoeftes, voorkeure en redes het wat, waarom en by wie hulle gaan koop en besigheid doen. Hoekom verkies hulle een besigheid bo ‘n ander. Dink ‘n bietjie aan aspekte soos:
• Gerief
• Verskeidenheid
• Kwaliteit
• Pryse
• Hoflikheid
• Tuisvoel by ‘n besigheid
• Dienste soos aflewering en na-verkoopdiens
• Jou besigheid se voorkoms en ligging.
Ek wil tog daarop wys dat geen besigheid of onderneming ooit daarin sal slag om alle verbruikers tevrede te stel nie.
Moenie met groter mededingers in ‘n stryd betrokke raak nie. Doen eerder iets anders wat hy nie doen nie, of voor ingerig is nie. Dit is belangrik om te fokus op persoonlike aandag, deskundige advise en ‘n groter verskeidenheid van dienste wat in jou guns as kleinsake-ondernemer kan tel.
Daar bestaan drie soorte mededingers, naamlik aggressiewe, defensiewe en passiewe. Hulle kan ook beskryf word as –
a. Die wat dinge laat gebeur;
b. Die wat toekyk hoe dinge gebeur, en
c. Die wat wonder hoekom dinge wel gebeur.