Vir duisende skoolverlaters is loopbaankeuses en die soeke na werk hierdie tyd van die jaar sterk onder die kollig. In baie gevalle dreig die vooruitsig na ‘n blink toekoms om uitsigloos te raak. Is die moontlikheid van werkloosheid besig om vir jou en jou ouers moedeloos en depressief te maak ? Voel dit vir julle of julle in ‘n bodemlose put afsak?
STOP !
Kom ons raak positief. Jy het talente, krag, ‘n wonderlike verstand en gesondheid, alles wat nodig is om met die regte benadering, ingesteldheid en vasberadenheid hierdie morbiede gevoel in ‘n opwindende atmosfeer te begin omskep.
Jou geleentheid tot sukses is saamgevat in die woord ENTREPRENEURSWESE. Daarmee bedoel ek entrepreneurswese as ‘n opwindende loopbaan geleentheid.
Ons is tans baie bedrywig met die ontwikkeling en uitbreiding van hierdie blog waarbinne kinders en tieners tussen die ouderdomme van 3-18 jaar afgerig word om ‘n ware “Entrepreneurial Spirit“ te ontwikkel. Die blog is ‘n ware bron van energie en ons sal voortdurend poog om wat sy voorkoms, indelings en gebruikersvriendelikheid betref op die voorgrond van nuwe tegnologie en ontwikkelinge te bly om sodoende die toenemende belangstelling in sy inhoude en die aanspreek van aangeleenthede van aktuele belang, te kan akkommodeer.
Die fokus is nie net op die 3 afdelings daarin vervat nl. 3-7 , 8-12 en 13-18 jaar nie, maar maak groot bemoeienis met ouers , as hulle opvoeders en belangrikste veranderingsagente , asook skole en leerkragte, om as krities belangrike rolspelers, betrokke te wees om kleuters, laerskool-kinders en tieners te help om basiese besigheidsvaardighede aan te leer sodat jongmense reeds by voltooiing van hulle formele skoolloopbane ‘n sinvolle sakebegrip en agtergrond kon ontwikkel en toepas.
Ek is oortuig daarvan dat sodanige vaardighede leerders, wie verder wil gaan studeer, ‘n goeie basis kan bied. Deur ‘n ingesteldheid en kenmerkende eienskappe van suksesvolle en volhoubare sakelui deel van hulle mondering te maak sal voornemende entrepreneurs ‘n goeie begrip kon vorm wat die vereistes vir sukses behels. Selfs al besluit ‘n jongmens/skoolverlater om nie ‘n volwaardige entrepreneur te word nie maar as werknemer tot die mark toe te tree, sal al hierdie eienskappe en verworwe vaardighede steeds van groot waarde wees vir ‘n suksesvolle loopbaan.
Daar is ongelukkig ook ‘n negatiewe persepsie by mense dat entrepreneurswese eintlik as ‘n laaste uitweg beskou word om ‘n geldjie te probeer verdien. As herhaalde aansoeke vir werk nie slaag nie word daar dikwels as laaste uitweg besluit om dan maar ”my eie ding te doen” . Die rampspoedige gevolge van sommer net ‘n impulsiewe besluit t.o.v. ‘n eie besigheid te neem word oraloor deur statistieke beklemtoon. Ek wil deur hierdie blog internasionaal mense aanmoedig en bemagtig om entrepreneurskap as ‘n volwaardige loopbaan te sien met die verwagting van sukses, volhoubaarheid en winsgewendheid—vandaar die drie basiese indelings van kinders/tieners, ouers en skole en leerkragte.
Die groot terugslae, daaglikse stresvolle situasies, onvoorsiene struikelblokke en onbeheerbare faktore wat ‘n entrepreneur kan ervaar, kan ‘n groot impak op sy/haar geestesingesteldheid uitoefen. Gevolglik word die sielkundige mondering van ‘n entrepreneur as ‘n noodsaaklike bestanddeel van die groter entrepreneuriese prentjie gesien. Die ontwikkeling van ‘n “mental toughness” om die daaglikse stressors doeltreffend te kan hanteer, is onontbeerlik. Die ontwikkelende en voornemende entrepreneur behoort dus deeglik toegerus te word met “life and coping skills” asook ‘n ratsheid en aanpasbaarheid wat hom/haar in staat stel om suksesvol te funksioneer in hierdie stresvolle en uitdagende beroepsrigting.
Teen hierdie agtergrond is dit noodsaaklik dat besondere klem geplaas word op die ontwikkeling van aspekte soos Emosionele Intelligensie, Veerkragtigheid (Resilience) en meer spesifiek ‘n entrepreneuriese “mind-set”, asook Kreatiwiteit, Kreatiewe Kommunikasie , Onderhandeling en die belangrike kwessies van Finansiele geletterdheid.Daar is sovele meer komponente wat hierby gevoeg sal word
Dit is nou die geleentheid om as ouers,kinders en tieners en as skole betrokke te raak om hierdie oplossing aan te gryp en betrokke te raak om saam met talente en vaardighede vir ons jongmense ‘n bedeling te help skep waarbinne hulle met trots kan voortbeweeg . Hierdie blog is tot jou beskikking. Gee vir ons jou vrae, menings en ons kom terug na julle met antwoorde .
Ons praat elke week met mekaar!