Ek wil graag met jou iets deel wat Santjie vir my vertel het:
“Ek was een van twee kinders. My boetie was 6 jaar oud en ek 8 jaar. Ons was baie lief vir mekaar maar het ook maar soms baklei dat hoor en sien vergaan. Ek kan nog so goed onthou hoe hy van my skoolboeke stilletjies uit my tas gehaal het en dan kom ek sonder dit by my klasse aan. O, ek wou baie dae sy nekkie vir hom omdraai. Maar hy was my kleinboet met die mooiste paar oë onder die son. Ons het by die see gebly, so vakansies was nie vir ons ‘n vervelige besigheid nie want ons was sommer by die groot water. Eintlik het ons so baie vriende gehad plus baie ander wat elke jaar kom vakansie hou het dat ons regtig nie kon kla nie.”
“Ek het een middag lui lekker op die rotse in die sonnetjie gesit en sommer net die see beloer maar eintlik meer die baie vakansiegangers op die strand. Ek kon nie glo hoeveel leë blikkies en houers om van die plastiek nie eens te praat nie, sommer net daar op die strand bly lê het wanneer hulle weer geloop het. Dit was eintlik vir my verskriklik dat ons mooi ou strand so moes lyk . Ek het by myself gesit en wonder wat gedoen kon word om hierdie rommel weg te kry”. “Wag ‘n bietjie, ek het ‘n plan!” As hierdie plan gaan werk gaan ek nog geld ook maak en ons strand gaan skoon bly. Hoekom het ek nie al lankal hieraan gedink nie. Ek is met my plan huistoe om dit met my pa en ma te gaan bespreek. Aandete was net die regte geleentheid om my plan bekend te maak. Ek kon nie wag dat almal om die tafel moes sit nie. Pa het skaars dankie gesê vir die kos toe val ek weg.”
“Pa wat dink pa en ma daarvan as ek elke dag van die vakansie help om ons strand skoon te maak?” Dit was eers doodstil om die tafel, almal het ietwat verbaas gelyk. “ Wat wil jy skoonmaak my kind ?“ Het ma van haar kant af laat hoor” “Ek wil al die blikkies en bottels optel wat mense so op die sand laat lê as hulle klaar vir die dag daar gekuier het.” “Wat wil jy dan daarmee maak?” ”Ek gaan hulle hier agter in hope pak en dan kan mense wat met sulke goeters werk dit hier by my kom koop” “Maar jy moet onthou ons kan nie al die goed sommer net hier agter in hope neersit nie” “Nee ek wil vir pa vra om vir my ‘n klomp dromme te kry wat ek hier kan neersit en dan kan ek soort vir soort daarin pak.“ “Kan pa of ma vir my sê met wie moet ek praat om my blikkies en al die ander goed te kom koop en wat hulle vir my daarvoor gaan betaal.” “Ek kon sien ma en pa het al hoe meer in my projek belang gestel maar boetie het roerloos gesit sonder om ‘n woord te se.” “Boetatjie, wil jy graag ook geld maak?” Die aas was in die water en die vis was oppad om te hap. Boetie het skielik by die hoor van die woord geld belangstelling getoon. “ Ja, maar wat moet ek doen?“ het hy ietwat huiwerig gevra. “Jy moet help optel my liewe boet, hoe meer jy bymekaar maak en huistoe bring hoe meer geld in jou sak.” “ Kan ek maar ander ouens vra om te help?” “Natuurlik kan jy, net soveel soos jy wil. Onthou net dan moet jy uit jou geld wat ek jou betaal weer vir hulle iets betaal sodat hulle sal aanhou om jou te help.” “ Ek is in!“ was boetie se antwoord.”
“My projek was aan die gang. Ons het dromme gekry waarin al die verskillende materiale gegooi kon word. Ek moes saam met my pa na ‘n plek gaan waar hulle al hierdie sort afvalprodukte koop, om te gaan verduidelik wat my plan met alles was en ook te hoor wat hulle my sou betaal. My pa het my oral saam met hom geneem as hy oor my projek met iemand gaan praat het want so kon ek gou-gou ‘n klomp dinge omtrent besigheid leer.”
“Ek het sommer gou geleer dat ’n mens vriendelik moet wees en duidelik moet praat. Dit is ook nodig om jou plan mooi op papier neer te skryf. Eintlik is dit baie netjieser as dit getik is. Ek het dan wanneer daar met iemand gepraat word, ‘n afskrif saam geneem om vir die mense daar te gee. Dit het ‘n goeie indruk gemaak en hulle kon baie gou sien ek was ernstig met my besigheid.”
“Ek het later ‘n hele ry dromme gehad vir al die material wat ons herwin het. Ek was behoorlik verbaas om te sien hoe fluks my boetie gehelp het. Ek kon dit skaars glo want hy was nou nie aldag die flukste outjie wat ek ken nie. Hy het al sy maters bymekaar gekry en vir hulle vertel hoeveel geld hulle kon verdien en dit het soos ‘n veldbrand versprei. Skielik wat daar nuwe maats wat wou kom help, wat tevore nie eers in my boetie belang gestel het nie. Ons was sommer lekker besig en oor naweke en vakansie tye het dit woes gegaan. Wat my nogal goed laat voel het, was my spaar-rekening, wat my Ma vir my oopgemaak het by die Bank. My ma het eendag opgemerk “my kind maar ek kan mos nou by jou kom leen!”
“Ek hou nogal daarvan om te lees . Een aand het ‘n artikel in ‘n tydskrif my oog gevang, dit was eintlik in ‘n tydskrif wat my pa elke maand gekoop het. Ek glo nou nog daardie artikel was spesiaal vir my bedoel. Dit het gehandel oor rommel en die herwinning daarvan met prentjies om dit mooi te illustreer. Die artikel het baie mooi beskryf hoe om ‘n besigheid wat met die herwinning van rommel te make het verder uit te brei. Dit was nog glad nie vir my moontlik om op daardie stadium sulke nuwe uitbreidings te maak nie, maar dit het my nie gekeer om daaroor te droom niel Ek het daardie artikel met die prentjies daarby soos ‘n stukkie goud bewaar.”
“Dit was my droom en ek was nie van plan om dit te verloor nie. Ek het gereeld daarna gekyk en dan in my gedagte gesien hoe dit werk. Ek kan jou nie genoeg sê hoe belangrik dit is dat jy ‘n droom moet hê nie. Ek praat nie nou van sommer net ‘n droom nie en verseker ook nie van ‘n nagmerrie nie. Nee ek praat van prentjies in jou gedagte van hoe jou besigheid eendag gaan lyk en werk.Dit was vir my heerlik om my droom sommer op papier neer te skryf en dan nog prente daarby te plak ook. “ Ma,kyk hoe lyk my plan nou al.” “Ma moes elke keer maar geduldig daarna kyk. My pa was saam met my opgewonde , maar het my ook mooi laat verstaan dat dit harde werk gaan kos en dat mens eenvoudig moet aanhou al gaan dit nie elke dag maklik nie”
“Ons kon na ‘n paar maande nie meer al die rommel by ons huis stoor totdat dit genoeg was om verwyder te word nie. Ek het vir my pa gevra of daar nie ‘n ander plek was waar ons die dromme kon plaas nie. Ons het toe ‘n stoortjie gekry wat ek kon huur daar eenkant in die Industriële-gebied. Daar kon ons maklik 10 keer soveel dromme sit wat gevul kon word. Ons het toe ook koerante en tydskrifte bymekaar gemaak.”
“Toe kry ek ‘n ander plan. Die outjies kon nie so gereeld my boetie help om materiaal bymekaar te maak nie met die gevolg dat baie rommel sommer net gebly het waar dit was. Ek het besluit ek gaan vir enige kinders wat wou help met lekkers betaal en as hulle ekstra bring, kom daar nog ‘n koeldrank saam met die lekkers. Boetie, dit was net ‘n paar dae toe sien jy net lekkers en koeldranke by die hek uitgaan. Nee kyk, daar is genoeg om op te tel om sommer gou ‘n lekker en koeldrank te verdien.”
“Weet jy wat? ek het toe al ‘n groot klomp vrywilligers uit ons gemeenskap gehad wat ‘n bydrae gemaak het om ons omgewing skoon te hou. Ek het nou nog die brief wat die Sakekamer se mense vir my gestuur het om my te bedank vir die projek.”
“Dis nou al jare gelede en vandag werk my herwinningsbesigheid volstoom om al die rommel plaaslik en van ander buurdorpe te versamel, te verwerk en waarde daarby te voeg. Dit bly vir my wonderlik om te ervaar wat met ‘n droom kan gebeur as jy dit behou en vertroetel.”
Maats daarom wil ek so graag sien dat jy ook ‘n droom sal hê. Dit mag dalk wees dat jy graag met jou hande dinge wil maak soos kralewerk of ander vorme van kunswerke. Jy mag dalk daarvan hou om met hout te werk, of hout te kerf en beeldjies daaruit te maak. Ander hou weer daarvan om te bak en brou en daarmee die lekkerste eetgoedjies te maak. Dit maak nie saak waarin jy belangstel nie, niks is minderwaardig teenoor iets anders nie. Jy kan droom oor dit waarvan jy hou om te doen. Ek onthou so goed ‘n ou skoolmaat van my wat alewig besig was om vliegtuigies uit papier te maak. Later het hy model vliegtuigies, wat van Balsahout of plastiek gemaak was, gebou . Dit was sy droom om modelle van verskillende vliegtuie wat oral op aarde vlieg te bou. Hy het vandag ‘n besige stokperdjie -winkel wat net modelvliegtuie verkoop. Julle het dalk al sulke modelle gesien wat met sy eie motortjie ingebou, vlieg. Sy droom het waarheid geword .
Wat gaan jy met jou droom maak. Ek het onlangs bietjie in die Bosveld gaan kuier, daar naby die Kruger Wildtuin. Ek het by ‘n hele paar verkopers langs die pad stilgehou om te kyk wat hulle alles te koop aanbied. Daar was die mooiste houtwerk en beeldjies uit hout gesny en gekerf, om nie eens te praat van die beelde van ons diere nie. ‘n Man was eenkant besig om met ‘n stuk hout te werk. Ek het na hom toe geloop , gegroet en by hom gaan sit. Ons het seker ‘n minuut lank net so doodstil bymekaar gesit terwyl die beitel in sy hand saggies ‘n vorm uit die hout geskep het. Ek het hom gevra “is dit vir jou lekker om hierdie werk te doen?” Sy antwoord aan my was “ek doen dit al baie jare lank want ek laat die hout met die mense praat.” Dis sy droom waarmee hy gaan oud word.
Wie weet, dalk sien ek ook eendag jou droom wat waar geword het
Pragtig geskryf en inspirerend. Ons almal het ons drome…en dit kan waar word! 🙂