Daar wag ‘n nuwe lewe
Die vooruitsigte vir die komende vakansie het maar bleek gelyk. ‘n Paar weke van verveeldheid, doelloosheid en ‘n afgesaagde roetine was my voorland. Die enigste troos op daardie stadium was om nie aan ‘n skoolrooster uitgelewer te wees nie.
Kort voor ons sou sluit het ‘n klasmaat van my uit die bloute een middag by ons huis opgedaag om my van ‘n avontuur kamp te vertel wat hy gedurende die vakansie gaan bywoon. My verbasing was nog groter toe hy vertel dat sy ouers aangebied het dat hy ‘n maat kon saamneem vir wie hulle ook sou betaal. Ja, ek was die maat!
“ Seker beter as niks” was my stille opmerking. Ek het, met my ouers se goedkeuring, ingestem om saam te gaan. Snaaks hoe dinge werk, want in plaas van ‘n opgewondenheid was ek maar traag om vooraf ‘n paar goedjies gereed te kry. Dit was so al of ek nie lekker aan die gang kon kom nie.
Om alles te kroon was ons vervoermiddel “ Die Ark,” ‘n skoolbus wat baie jare gelede die voorreg van ‘n nuwe model gehad het. Nou was sy hoofkenmerk sogenaamde “ karakter.” Ek sou hom eerder ‘n rammelkas wou noem.
Uiteindelik het ons vertrektyd aangebreek. Die Ark was stampvol. Glo my, ek was nogal verbaas dat soveel kinders vir die kamp ingeskryf het. Die sleepwa agteraan die bus was iets om te aanskou. Daar was genoeg bagasie en goed wat saamgaan om ons ‘n maand lank aan die gang te hou, laat staan een week van die kamp.
Heel gou het die teerpad oorgegaan in ‘n grondpad, goed gesinkplaat met stofdampe wat lui-lekker agter ons aan dwarrel. Stadig maar seker het ons teen die steiltes af tussen die rante en koppe begin wegraak. Draaie was daar genoeg. Die koppe het geleidelik verander na berghange. Die kranse was steil, reuse stukke rots ingepak en saamgepers om vreemde patrone te vorm. Ek het die toneel woorde-loos aangestaar, so half onbewus was die klomp maats om my. Dit was kompleet of die omgewing my soos ‘n magneet aangetrek het. Rondom my het dit soos ‘n klomp spreeus geklink. Normaalweg sou ek deel van die gewoel en gewerskaf gewees het maar ek was vasgevang in iets heel vreemds.
Kort voor lank het ons voor ‘n reuse hek stilgehou. Ons het skaars stilgestaan toe ‘n fris 4×4 sy verskyn-ing maak. ’n Oom met ‘n yslike snor en kuite soos bakstene het die slotte oopgesluit. Met hom vooraan is ons die bosse in. Die volgende oomblik was die kampterrein voor ons. Die Ark het tot stilstand geruk. Twee honde so groot soos jong kalwers het ons bestorm. Die twee Boelhonde was vasbeslote om ons elkeen welkom te lek en selfs ‘n goeie hou met die stert te gee. Die oom met die groot snor het stelling inge-neem.
“ Welkom julle, my naam is André. Ons gaan nou afpak maar net gou ‘n vinnige reëling. Hier in my hand is ‘n possak, so kom sit gou julle selfone en ander dinge wat musiek kan maak hierin, dan sluit ek dit toe vir solank julle hier is.” Hier luister ons nie na geraas nie maar na die geluide en ook die stilte van die natuur.” Ons het soos robotte ons kosbare besittings aan die possak toevertrou. Onder ‘n groot afdak het ons alle verdere instruksies en reëlings ontvang. Praat van verrassings. “ Jy het presies vyf minute om in die swembad te wees. Laaste een daar was vanaand almal se skottelgoed.” Dit was oom André se woorde.
Ons het heerlike ervarings beleef. Oom André het van natuurverskynsels in die omgewing gepraat, interessante dinge uit die geskiedenis, bergformasies en die lugruim bo ons. Die sterre was ‘n skouspel. Ons het oor dieper dinge van die lewe gesels, ons plek in die wereld, wat ons hier op aarde moet en ook kan doen asook die betekenis van alles. Jy sal verbaas wees hoe die klomp saam gesels het.
“ Môre gaan ons die berghang hier agter klim. Julle sal ervaar dat ons dit stuk vir stuk gaan doen totdat ons bo uitkom. Dis soos dit in die lewe werk, jy vorder en groei stuk vir stuk totdat jy jou doelwitte bereik het.” So het ons gewag dat die môre moes aanbreek, sommiges van ons was benoud andere het net braaf prober lyk en andere het allerlei slim stories gehad oor hoe hulle die “ou bergie” sou aanpak.
Die volgende dag was ‘n keerpunt in my lewe. Die berghang was behoorlik hoog en steil. Ons het stuk vir stuk boontoe beweeg. Ervare klimmers het ons begelei. Daar was verskillende rusplekke teen die hange op, elkeen was soos ‘n doelwit wat bereik en suksesvol afgehandel is. Heel bo het oom André ons inge-wag. “Geluk aan elkeen van julle, julle het voorwaar nuwe hoogtes bereik.” Ek het binne ‘n paar uur geleer dat ek vir my toekoms ook doelwitte moet stel en dit kan bereik as ek gewillig is om daarop te fokus. Praat van spanwerk, planne uitdink, besluit neem en moeilike omstandighede oorwin om die klimtog suksesvol te kon afhandel.
So moet dit met alles in jou lewe gaan, ook wat jou werk eendag betref. Die wêreld van ‘n entrepreneur gaan dieselfde van jou vra. Ek het seker gemaak dat hierdie vereistes deel van my lewe word. Ek noem dit sommer goeie gewoontes.
Onthou, as ek dit kon doen, jy kan dit nog veel beter doen. Dis WHOW!