Om leerders wat van voorneme is om na voltooiing van hul formele skoolopleiding ‘n eie besigheid te begin en sodoende die wêreld van Entrepreneurswese te betree, doeltreffend toe te rus, is geen geringe taak nie.
Sleutelwoorde:
Vaardigheidstekorte, Kernvaardighede, Navorsingsvaardigheid
Tydens ‘n onderhoud met Leo Steyl, Voorligtingsielkundige in privaatpraktyk, het hy die volgende vereistes as absolute noodsaaklikhede beklemtoon:
1. Kry sekerheid oor watter beroepsrigtings/besigheidsgeleenthede tans die hoogste vlakke van vaardigheidstekorte ondervind. Watter besigheidsgeleenthede is daarin vir jou opgesluit?
2. Laat jou keuse van die besigheid wat jy gaan beoefen, aanpas by jou unieke persoon-likheid, belangstellingsprofiel, aanlegte, waardes en lewensrolle waaraan jy voorkeur gee. Maak seker dat jou voorgenome besigheid aansluit by die behoeftes wat in die mark bestaan. Daar is byvoorbeeld ‘n tekort aan Ingenieurs in Suid-Afrika – watter ander beroepe kan nog bygevoeg word?
3. Aangesien dit in die 21 ste eeu uiters nodig is dat die loopbaanontwikkelings-komponent van leerders tydens voorligting baie sterk beklemtoon behoort te word, is dit belangrik dat jy die beroepsvoorligtingsdiens in jou skool reeds vanaf ‘n vroeë ouderdom maksimaal benut.
4. Jy behoort tydens beroepsvoorligting ‘n ingesteldheid te ontwikkel om voortdurend navorsing te doen oor watter kernvaardighede jou voorgenome besigheid gaan vereis. Hierdie vaardighede vereis meestal ‘n hoë mate van emosionele intelligensie. Jou ontwikkeling, skoolopleiding en beroepsvoorligting moet voorsiening maak daarvoor dat hierdie menslike vaardighede behoorlik ontwikkel en jy die voordele daarvan kan gebruik. Een so ‘n vaardigheid is leierskap. Kan jy aan nog vaardighede dink?
5. Onthou dat die ontwikkeling van sulke sleutelvaardighede ‘n belegging in jouself en ‘n betekenisvolle verhoging van jou menslike kapitaal is. Verbind jou daartoe om hierdie vaardighede voortdurend lewendig te hou en te vernuwe.
6. Doen selfstandige navorsing en verkry geldige en korrekte inligting oor wat jou beoogde besigheid presies behels. In die praktyk kan jy met die nodige bystand en ondersteuning van jou Voorligter, ouers en ander kundiges, ‘n eie en funksionele beroepsnavorsingswerkblad opstel. So ontwikkel jy jou beroepsnavorsingsvaar-digheid. Dit hoef nie ‘n ingewikkelde proses te wees nie. Jou werkblad behoort basiese kerninligting en vrae oor die beoogde besigheid (-hede) te bevat, soos:
• ‘n Kort en duidelike beskrywing van die besigheid wat jy in gedagte het.
• Watter soort persoonlikheid en belangstellings is hier betrokke en nodig?
• Watter werkseienskappe en kernvaardighede is noodsaaklik?
• Watter verpligte en aanbevole skoolvakke is belangrik?
• Watter verdere opleiding het ek vir my beoogde besigheid nodig?
• Wat is die grootste voor- en nadele van die besigheid wat ek wil vestig?
• Wat word van my as eienaar van my eie besigheid verwag?
• Is dit wat ek graag elke dag wil doen en geniet?
• Hoe en waar kan ek meer inligting bekom?
7. Wees te alle tye passievol en ondersoekend in jou voorbereiding om jou droom van ‘n eie suksesvolle besigheid waar te maak. Moet nie huiwer om vrae te vra nie – hoe meer jy leer en waarneem wat jou beoogde besigheid alles behels, hoe beter gaan jy dit waar maak.
Vra gerus al jou vrae en ons kom terug na jou met antwoorde en aanbevelings.
Met erkenning:
Leo Steyl M.A. Sielkunde (U.S.); B.Ed. Cum Laude (U.V.)
072 326 5 234
leosteyl@gmail.com
www.leosteyl.wordpress.com