Gebruik stories vir jou kind se ontwikkeling
Onthou jy nog stories uit jou kinderdae? Die lekkerte daarvan en die opvoedkundige waarde van stories bly fassinerend. Maak jou plaaslike biblioteek jou vennoot. Hou in gedagte dat elke gebeurtenis op aarde eintlik ‘n storie vertel. Jou biblioteek huisves ‘n skatkis van kinderstories, sou jou eie bronne nie voldoende wees nie.
Waarom dan stories vir jou kind(ers), lees en vertel. Dink vir ‘n oomblik aan jou kind se emosionele ontwikkeling en sy/haar lees- en luistervaardighede. Voeg daarby groei in terme van kreatiwiteit, syfervaardighede, probleemoplossings en ons skep ‘n opwindende omgewing wat verseker tot jou kind se voordeel gaan strek. Oor elkeen van hierdie aspekte kan boeke vol geskryf word. Ons gaan hulle almal nog van nader bekyk.
Dit is noodsaaklik om die lees en vertel van stories op te volg met bepaalde aktiwiteite. Hierdie voortsetting van die stories behoort ‘n aangename ervaring vir jou kind te wees:-
• Laat jou kind die storie oorvertel. Sy geheue, woordeskat en spraak werk nou oortyd;
• Kinders hou daarvan om toneel te speel. Hier is jou stories die ideale geleentheid om opgevoer te word. ‘n Paar kostuums verleen nog meer trefkrag aan die geleentheid;
• Laat jou kind iets teken van wat in die storie voorkom;
• Vermy onnodige kritiek van jou kant af omtrent iets wat byvoorbeeld nie heeltemal lewensgetrou uitgebeeld word nie. Onthou jou kind is in ‘n ontwikkelingsfase. Help kweek selfvertroue en gee erkenning;
• Maak ‘n plakkaat van prente van byvoorbeeld diere wat in die storie voorgekom het;
• Kinders kan hul eie stories skep wat aansluit by dit wat hulle gehoor, of self gelees het;
• Laat kinders debatteer oor watter stories die “lekkerste” was, sou daar meer as een ter sprake wees. Laat hulle byvoorbeeld vertel wat hulle sou wou verander in die verloop van die storie;
• Jy kan hulle gerus vrae vra omtrent die storie. Dit bevorder jou kind se vermoë om feite te onthou en sover moontlik, korrek te weergee;
• Normaalweg het ‘n kind ‘n bepaalde mening omtrent ‘n storie. Laat hy/sy daardie mening neerskryf en dit vir die skrywer stuur (daar is ruimte vir kommentaar/comments);
Moedig jou kind aan om sy/haar eie stories te skryf, of dalk ‘n klein boekie. Laat hulle dit self illustreer. Dit verskaf groot pret en die bevrediging van ‘n taak suksesvol afgehandel.
Al hierdie voormelde aktiwiteite en gepaardgaande voordele kan met groot vrug as alternatiewe lesmateriaal in skole gebruik word.