Ek is in graad 6. My naam is Emile en ek bly saam met my pa, ma, boeties en sussies in ons huis naby die skool. Ons skool staan daar eenkant in die oop veld. Daar is geen bome by die skool nie en in die somer is dit baie warm daar. Ons moet pouses maar op die stoepe sit want daar is geen ander skaduwee nie. Wanneer dit die slag reën was alles net water en modder.
Daar was in die verlede bome by die skool maar met die baie droogtes en gebrek aan reën het dit alles tot niet gegaan. Ons het intussen ‘n nuwe skoolhoof gekry en hy het vir ons in die saal gesê dat hy nog baie planne vir die skool het en dat hy dit nog met ons almal gaan bespreek. Ek het intussen mooi gekyk wat my pa rondom ons huis gedoen het. Hy het ‘n klomp bome aangeplant waarvan ‘n hele paar vrugtebome was. Die bome het al mooi skaduwees gegooi en dit was ons speelplek.
Kort nadat ons nuwe skoolhoof diens by die skool aanvaar het, het hy een dag kort voor sononder by my pa en ma by ons huis kom kuier. Ek het hom kom groet nadat my pa my geroep het. Hy het my sommer oor my skoolwerk uitgevra. Voordat hy vertrek het, het hy saam met my ouers uitgestap om na ons grond te kyk want hy was ook van plan om rondom sy nuwe huis ‘n paar dinge te doen soos om bome te plant Ek het net daar al my moed bymekaar gemaak en gevra “Meneer, kan ons nie ook bome hier by ons skool plant nie? Wanneer hulle groter word sal daar koelte wees vir ons almal om te sit of speel.” Hy het my vir ‘n paar oomblikke verbaas aangekyk en toe gesê “Kom praat more met my by die kantoor en dan vertel jy my van al jou planne.” “Dankie meneer” was al wat ek op daardie stadium kon sê.
“Ma, Pa, ek gaan môre mooi vir meneer van my plan vertel.“ So is ek toe die volgende dag na meneer se kantoor toe. Toe ek daar voor sy deur gestaan en wag het om in te gaan het van die kinders wat daar verby geloop het met hande voor die mond gegiggel want hulle was seker ek was in die moeilikheid.
“Meneer, ek het ‘n plan wat ons hier rondom ons skool kan doen. Meneer het mos gister gesien wat ons besig is om by ons huis te doen?” “Vertel Emile!” “Meneer , ons moet merke gaan maak waar ons oral hier om die skool koeltebome wil plant. Dan moet ons lekker diep gate op die merke grawe want dis waar die jong boompies in geplant gaan word. Daarna sal ons wye walletjies om elke gat hark sodat die water naby aan die bome se stamme kan bly.“
“Ons moet ook ‘n boord vrugtebome aanplant. Ek dink ons moet ‘n hele paar vyebome plant want hulle groei maklik. Ons moet ook perskebome en appelkoosbome in die boord plant. Weet meneer, ons kan daarvan konfyt laat kook, ek weet my ma kan dit goed doen. Ons kan die konfyt mos verkoop meneer!! “
“Meneer, ek het ook gedink ons moet groente plant, genoeg vir almal. Weet meneer hoeveel kinders is daar wat honger by die skool is? Hulle het nie kos nie, meneer.”
“Nou Emile, ons sal moet uitvind hoe om al hierdie dinge te doen. Ek wil hê jy moet deel van my komitee wees wat al hierdie dinge gaan ondersoek en uitvind. Wanneer ek môre in die saal met die leerlinge hieroor gaan praat, gaan ek vir hulle van jou idees vertel. Ek gaan hulle inlig dat jy nou deel van my komitee gaan wees wat ‘n plan vir hierdie projek van jou gaan uitwerk.“ “Dankie meneer, ek is baie bly meneer.”
“Ek was deel van die vergaderings wat daarna plaasgevind het. Ons het ‘n plan opgestel wat netjies getik was. Om almal mooi te laat verstaan hoe die plan gaan werk het ons ook ‘n tekening gemaak van die skoolgronde en waar die bome geplant en groente tuine gemaak gaan word. Die volgende stap was ‘n vergadering waarheen die hele dorp se mense genooi was. Aan die einde van daardie vergadering was die mense baie opgewonde oor die plan en dit was duidelik dat almal dit ondersteun het. ‘n Hele aantal ouers het sommer net daar hulle name neergeskryf want hulle was bereid om te kom help. Ander mense het weer kom vra wat alles nodig was sodat ons kon begin. So het die lys van name van mense wat bereid was om met iets te help al hoe langer geword. Ek het nooit kon dink dat my plan so ‘n groot reaksie sou meebring nie..
Ses maande later was die skoolgrond een groot werkery. Gits dit het amper soos ‘n plaas begin lyk. “Meneer, wat dink meneer van ons bome? Hulle begin nou sommer baie vinnig groei.” “Emile ek kan nie glo dat dit al so mooi lyk nie, een van die dae kan ons al onder hulle in die koelte sit.” Ek het geweet die kompos en water wat hulle gereeld kry, is die regte behandeling. Die vrugtebome het ons almal verbaas. Nie een boom sukkel nie. Dit was amper te goed om waar te wees. Ek moet vir jou vertel dat ons baie trots was toe die eerste houer met groenboontjies uit die groentetuin te voorskyn gekom het. Ek onthou so goed die opgewondenheid by almal toe iemand van die dorp een oggend met ‘n bakkie voor die skool stilhou. Twaalf henne en ‘n haan om ‘n hoenderboerdery mee te begin! Dit was ‘n groot geskenk!
Daar was ‘n paar vereistes vir hierdie projek. Eerstens moes elke leerling bereid wees om sy of haar deel by te dra en dit aanhou doen. Daar was vir elke deel van die projek spanne ingedeel wat dan vir daardie afdeling verantwoordelik was. Daar was ‘n paar ouens wat wou laat slap lê, maar die ander leerlinge het hulle gou-gou weer aan die gang gekry.
“Maar Emile, waar kry julle al die geld om hierdie dinge te kan doen en dit so mooi te hou?” het mense al gevra. “Weet oom, dit kos ons eintlik baie min. Ons grootste vereiste is dat die werk reg en netjies gedoen moet word en dat dit volgens die plan sal gebeur. Ons ywer het mense oortuig om betrokke te raak en nou ondersteun hulle ons met plantjies, saad, koringstrooi en ander material om kompos te maak en ‘n deklaag oral waar plante is te vestig. Ek weet nie eens aldag waar die mense vandaan kom of hoe hulle van ons weet nie. Ons het nou ‘n tannie wat gereeld sop kom kook van die groente uit ons tuine en elkeen kry ‘n bekertjie vol daarvan. Die groente wat nie gebruik word nie, word verkoop en met die geldjies wat ons daarvoor kry, koop ons weer nuwe saailinge aan om te plant. Ons het nou ook begin om elke maand vir een van die bejaardes groente verniet te gaan gee.”
Toe kom die grootste verrassing van alles. ‘n Man het by die skool aangekom met nuus wat ons skoon uit die veld geslaan het. “Ek het kom kyk wat julle alles hier doen en plant. Ons maatskappy maak plastiek- en skaduwee tonnels waarin blomme en groentes gekweek word. Ons maak by ons besigheid ons eie saailinge in tonnels. Ons is bereid om vir julle ‘n klein skaduwee tonnel te kom oprig waarbinne julle dan julle eie groente plantjies kan maak. Dit sal beteken dat julle moet leer presies hoe om alles te doen want dit is nie heeltemal so eenvoudig soos wat dit klink nie.“
So het ‘n droom met tyd waarheid geword. Ek het graad 7 geslaag en is höerskool toe. Ek het gereeld by die laerskool gaan help totdat ander leerlinge goed opgelei was om oor te neem .
Ek het een groot les geleer. Moet nooit jou drome weggooi of verwaarloos nie. Dit kan iets moois word.